|
voëlkykplekke - Borakalalo Nasionale Park | |||||
| Klub Voordele | Oor Voëlkyk | Komiteelede | Klubprogram | Nuus | Voëlkykplekke | TUIS |
|
Hierdie groot wildreservaat is naby Gauteng en bevat 'n wye verskeidenheid bosveld-, boomveld- en watervoëls. Meer as 300 voëlspesies is al aangeteken. Ooievaars, reiers, arende, visvangers, laksmanne en koekoeke (somer) is goed verteenwoordig. Die reservaat word gekenmerk deur die Klipvoordam, die Moretelerivier stroomaf daarvan en die skilderagtige Mogoshane-heuwels met gebroke terrein en smal klowe; dus 'n habitat vir verskeie spesies wat van rotsagtige terrein hou. Boomveldhabitat sluit in akasia-doringveld, rivieroewerbos en breëblaarsavanne, asook 'n gebied met mooi groot Burkea-boomveld. Verskeie grootwild, soos seekoei, renoster en buffel, kom ook voor. As 'n "grootwildreservaat" is stap slegs tot sekere dele beperk. Daar is egter baie dele waar u wel te voet kan voëls kyk en die twee skuilings kan uitstekend wees. Die beste gebiede is die Tholo-omrit, piekniekterreine, kampeergebiede en die Audi-omrit wat die oewerlyn van die dam volg. In die somer is dit moontlik om meer as 100 voëls per dag aan te teken. Voëls Spesiale voëls wat nie elders so naby Pretoria gesien word nie sluit in Groottroupant, Gryskopvisvanger, Maraboe, Waaierstertvlieëvanger, Bosveldpapegaai en Rooibekrenostervoël. Korttoonkliplyster is algemeen in die winter en die rivier onderkant die damwal is welbekend vir Watertrapper en soms Witrugnagreier. Swartooievaar, Dwergrietreier, Kleinwaterhoender en rariteite soos Wespedief (somer) is ook moontlik. Roofvoëls is goed verteenwoordig en Breëkop-, Bruinslang-, Bruin- (somer), en Grootjagarend, asook Kaalwang- en Bleeksingvalk, kom almal hier voor,. Voëlkyk Tholo-omrit (die beskrywing begin by die Moretelekamp, gaan daarvandaan weswaarts en keer terug met die suidelike been van die omrit langs). Aan die begin van die roete volg die pad die voet van 'n reeks lae heuwels, naby die rivier. Luister hier vir die geskree van die Bosveldpapegaai waar daar breëblaarbome teen die heuwelhange is. Kyk vir Koringvoël, Grootglansspreeu, Blousysie en Rooibekvuurvinkies op pad na die Ga Dinoyane-skuiling. In die somer besoek 'n verskeidenheid waadvoëls die gebied en Swartooievaar, Goudsnip en Dwergrietreier is moontlik vanuit die skuiling te sien. Met dagbreek en skemer arriveer Dubbelbandsandpatryse in groot getalle, veral in droë tye. Die pad kruis nou die rivierloop onderkant die dam, en gaan deur droë akasia-doringveld. Dis 'n goeie gebied vir Rooiborslaksman, Witkatlagter, Bonthoutkapper, Bosveldtjeriktik en Bruinkeelbossanger. Waar die roete sy verste westelike punt bereik gaan die pad deur 'n stand mooi groot bome. Kyk hier vir Groottroupant, Bennetse Speg, Bosveldvisvanger (somer) en Buffelwewer. Stop by die piekniekplek en kyk uit vir Gryskopvisvanger (somer). Geelvlekmossie, Gewone Swartmees, Withelmlaksman en Swartvlieëvanger is ook algemeen in die gebied. Anderkant die piekniekplek is daar 'n oop grasveld links van die pad, waar Gewone Troupant, Grootglansspreeu en Rooineklewerik teenwoordig is. Suidelike ritte en Sefudi-dam Die mees suidelike Audi-omrit volg die oewer van die dam en bied goeie geleentheid om 'n verskeidenheid watervoëls te sien. Kyk vir reiers en duikers en vir waadvoëls in gapings tussen die riete. Die pad langs die dam gaan deur kolle digter bos waar Kaapse Kapokvoël, Bosveldtjeriktik en Bruinkeelbossanger gevind kan word. Die pad moet tot by die Mutumuga-omrit gevolg word aan die boonste dele van die dam, wat goeie habitat vir watervoëls, insluitende Nimmersat en Reuse Reier, bied. Sefudidam en -skuiling in die verre suidoostelike hoek lê in gemengde akasia-savanne. Gedurende droogtetye is die skuiling goed vir Blou-, Koningblou- en Swartwangsysie asook Gewone Paradysvink en Pylstertrooibekkie. Ander voëls wat in hierdie deel van die park voorkom is aasvoëls, Boskorhaan en Bleeksingvalk. Phuduphudu-kamp lê in goeie breëblaarboomveld, waar Muiskleurvlieëvanger, Bennetse Speg en, in oop gebiede, Swempie en Bosveldkoester, gevind kan word. Ander algemene boomveldspesies sluit in Geelblestinker, Rooibekneushoringvoël en Swartkatakoeroe. Die Pitjanekampterrein word veral deur vissermanne gebruik, maar is 'n goeie plek om te stop en rond te loop. Stop op pad by die brug oor die Moretelerivier - dit bied moontlik Watertrapper, Groenrugreier en Gewone Nagreier. Kyk uit vir Dubbelbandsandpatrys, Maricovlieëvanger en Korttoonkliplyster (winter) tussen die brug oor die rivier en die kampplek. Die kampplek lê in 'n gordel akasiaboomveld en is 'n goeie plek vir Gewone Melba, Kalahari- en Gestreepte Wipstert, Gebande Sanger, Bosveldtjeriktik en Grootmossie. In die somer roep die Spotvoël dikwels uit die groot akasias. Kyk oor die dam uit, waar u Kuifkopdobbertjie, Witvlerksterretjie en Witborsduiker behoort te sien. Die Rivierwandelpad wat by Moretele-kamp begin kronkel tussen groot doringbome deur. Die kamp is tussen akasias en akasiaruigtes. Kaal kolle naby die kamp is 'n goeie plek vir Swartwangsysie en Rooibekvuurvinkie. Op die pad na die begin van die wandelpad moet u luister vir Waaierstertvlieëvanger en Kleinheuningwyser. Soek vir Rooikopwewer, Bosveldpapegaai, Gestreepte Nuwejaarsvoël en Afrikaanse Koekoek (somer) en Kleinsperwer. Die ruigtes langs die rivier is die tuiste van Witkeeljanfrederik, Grysrugkwêkwêvoël en Bruinkopvisvanger. Daar 'n goeie kans om Reuse Visvanger, Watertrapper en Swarteend op die rivier te sien. Piekniekterrein en heuwelhange Die hoof-piekniekterrein naby die damwal is 'n goeie plek vir sysies, koesters en spegte. Kyk vir Korttoonkliplyster (winter), Gewone Spekvreter en Gevlekte Lyster in en om die piekniekterrein en die aangrensende heuwels. Inligting Borakalalo is ongeveer 120 km vanaf Pretoria. Neem die N4-wes na Rustenburg en volg die tekens na Brits via Silkaatsnek. Neem die afdraaipad in die middel van Brits wat die pad na Borakalalo Nasionale Park aandui. Draai 17 km verder regs na Jericho en Dikhololo. 'n Grondpad van 24 km neem u tot by Jericho. Nadat u weer op die teerpad is ry vir 'n paar honderd meter reguit aan en draai dan links na Legonyane. Draai weer links na 'n verdere 7 km - daar is 'n wegwyser na die park wat 7 km verder is. Akkommodasie is beskikbaar in twee gemeubileerde safari-tentkampe. Bespreek vooruit, veral vir naweke. Kampering is ook beskikbaar by Pitjane - gewild onder vissermanne - of langs die Moretele-rivier. 'n Toegangsfooi is betaalbaar. 'n Voëllys en 'n kaart van die park, wat al die plekke aantoon wat hierbo genoem word, is by die hek beskikbaar. Vir besprekings en inligting skakel 01461 21192. |
| Club Benefits | About Birding | Contacts | Events | News | Birding Spots | HOME |
| Klub Voordele | Oor Voëlkyk | Komiteelede | Klubprogram | Nuus | Voëlkykplekke | TUIS |
| © BirdLife Northern Gauteng - a proud member of the BirdLife family. | ||||||