Logo for BirdLife Northern Gauteng Doorndraaidam Natuurreservaat deur Etienne Marais
Klub Voordele Oor Voëlkyk Komiteelede Klubprogram Nuus Voëlkykplekke TUIS

Die reservaat sluit die Doorndraaidam in en is in heuwelagtige gebied suid-wes van Potgietersrus geleë, omtrent 60 km van Naboomspruit af. Die grootste aantrekkingskrag is goeie kampeerfasiliteite en die vryheid en ruimte om ongehinderd in 'n wye verskeidenheid habitatte te kan stap. Wildbesigtiging kan ook goed wees, alhoewel dit oor naweke in die somer baie besig kan wees rondom die hoof-kampeerplek.

Hoewel voëlkyk hier uitstekend kan wees, mag dit bietjie meer moeite verg om bosveldvoëls te sien as by ander soortgelyke plekke. In die somer is omtrent 130 spesies per naweek moontlik, terwyl 100 in die winter met 'n bietjie moeite behaal kan word.

Doorndraai bevat 'n wye verskeidenheid bosveldhabitatte, van doringbome tot rivieroewerbos tot goed ontwikkelde breëblaarbome. Oper savanne-tipe landskappe en grasveld kom naby die water voor. Die gebied onder die damwal is weer rotsagtig, ook met rivieroewerbos.

Voëls

Die kampterrein is 'n goeie plek vir bosveldspesies, veral gedurende die week wanneer dit nie besig is nie. Die oostelike deel van die kamp bestaan grootliks uit akasia, terwyl die noordelike en westelike kant (teen die heuwel op) breëblaarbome het en goed is vir voëlgeselskappe (bird parties). Kyk in die digter bosse aan die westelike kant van die kampterrein vir Waaierstertvlieëvanger, Spookvoël, Geelborswillie en Boskrapper (somer), Swartkopwielewaal, Kleinsperwer en Gewone Swartmees. Die kampterrein is ook 'n goeie plek vir Gestreepte Koester, Swartvlieëvanger en Donkerwangbossanger.

Damoewer. Watervoëls kan goed wees hier, en die oostelike oewer kan by 'n aantal punte maklik bereik word. Witborsduiker, Kuifkopdobbertjie, Bont- en Reuse Visvanger, Visarend en 'n verskeidenheid waadvoëls (somer) kan gesien word. By die heel boonste punt van die dam (gewoonlik die beste) is daar dikwels Ralreier, Grootlangtoon of Afrikaanse Snip teenwoordig.

Grasvelde en oop gebiede aan die kant van die dam. Dele van die oewerlyn grens aan grasvelde waar Gewone Koester, Oranjekeelkalkoentjie, Swartpiek en Woestynklopkloppie asook Gewone Kwartelvinkies gevind word.

Boomveld. 'n Wye verskeidenheid gemengde boomveldhabitatte kom voor. Breëblaarboomveld bevat Gestreepte Visvanger, Muiskleurvlieëvanger, Bontroklaksman en Geelvlekmossie. Bruinarend maak nes in 'n boekenhoutboom wat van die pad af sigbaar is, en die vertoonvlug van Laeveldklappertjie kan in die somer in heuwelagtige gebiede gehoor word. Bosveldtjeriktik, Gebande Sanger en verskeie sysies hou in akasia-boomveld. Witborsspreeu, Gryskapokvoël, en drie neushoringvoëlspesies kom hier voor. Sperwers is volop, met Kleinsperwer, Gebande Sperwer en Witkruissperwer almal teenwoordig. Akkedis- en Kaalwangvalk kom ook voor.

Rotsagtige heuwelhange en kranse. Rondom die dam en die skouspelagtige koppie aan die suidekant van die dam, sowel as in die heuwels na die oostekant toe, kom tipiese voëls soos Klipstreepkoppie, Donkernaguil, Luitinktinkie en Dassievoël voor.

Die "Benede-dam roete" neem 'n mens om na die stroom-afkant van die dam. Om daar te kom moet mens die park by die hoofhek verlaat en dan links draai by die T-aansluiting. Volg die pad om die Sterkrivier uiteindelik by die basis van die damwal te kruis na 'n eens gewilde piekniekplek. Kyk vir windswaels en oewerswaels, Bontkwikkie en Dassievoël in die omgewing van die damwal. Grasperke rondom die Waterdepartement se kantore is goed vir Rooibeklyster en in die winter Gestreepte Koester. Gewone Spekvreter en Bontrugwewer word ook in hierdie gebied gesien. Poele in die rivier onder die dam lewer gewoonlik Swartriethaan, Kuifkopvisvanger en Ralreier.

Inligting

Doorndraai is 68 km van Naboomspruit af via die ou R101. Draai links na Sterkrivier en na omtrent 16 km is daar duidelike aanwysingsborde. Draai links en die reservaat is 6 km verder.

Kampeerfooie is R25 per staanplek per nag en 'n klein toegangsfooi is ook betaalbaar. Hekke open om 6:00 en sluit om 18:00 (somer).


Club Benefits About Birding Contacts Events News Birding Spots HOME
Klub Voordele Oor Voëlkyk Komiteelede Klubprogram Nuus Voëlkykplekke TUIS
   © BirdLife Northern Gauteng - a proud member of the BirdLife family.