|
voëlkykplekke - Marievale Voëlreservaat | |||||
| Klub Voordele | Oor Voëlkyk | Komiteelede | Klubprogram | Nuus | Voëlkykplekke | TUIS |
|
Die Marievale Voëlreservaat lê in 'n beskermde vleilandreservaat langs die Blesbokspruit. Dit is een van die beste plekke vir watervoëls in Gauteng en omdat baie voëlkykers hierdie area besoek, loop plaaslike voëlkykers gereeld een of ander skaars swerwer by Marievale raak. Enkele onlangse voorbeelde sluit Swartstertgriet, Asiatiese Goue Strandkiewiet, Geelpootstrandloper, Bairdse Strandloper en Gevlekte Riethaan in, terwyl Europese Vleivalk gereeld in die somer gesien word. Meer permanente inwoners van die vleilande sluit Grootriethaan, Kleinriethaan, Afrikaanse Snip, Goudsnip, Reuse Reier, Gevlekte Eend, Swartreier, Europese Vleisanger en Grootflamink in. Naas die vleilande bied Marievale ook tipiese Hoëveldse grasvelde en is dit een van die min plekke in Gauteng waar Kortstertflappe verwag kan word. Ander tipiese grasveldvoëls wat hier voorkom sluit Langstertflap, Gewone Koester en Vlei-uil in. Wanneer u die reservaat binnekom, wees op die uitkyk vir Kleinrietreier (Woudapie) in die riete op regterkant. Die water aan weerskante van die pad is 'n goeie plek om te kyk vir Ralreier, Grootkoningriethaan, Gevlekte Eend, Bruineend, Teeleend en Swartriethaan. Die rietplate is die tuiste van baie sangers, insluitende Kaapse Riet-, Kleinriet- en Kaapse Vleisanger. Indien u die pad na links volg, sal u aan u regterkant 'n piekniekarea, met ablusiegeriewe, teëkom. Ry reguit aan tot by 'n hek op linkerkant. Dit bied toegang tot die werklike voëlreservaat. Ry hier in, en maak seker dat u die hek toemaak en die besoekersboek teken voordat u verder ry. Ry voort tot by die tweede skuiling op linkerkant in 'n oop grasveldgebied. Links van die skuiling is 'n klam grasveld en spesies soos Gewone Bontrokkie, Kortstertflap en Vleitinktinkie is dikwels hier te sien. Die beste deel van die reservaat is verder padlangs, waar die pad 'n breë vlei en later ook die Blesbokspruit kruis. In die somer is dit 'n baie goeie plek vir waadvoëls, terwyl heelwat reiers, sangers, eende en ander voëls ook langs hierdie pad gesien kan word. 'n Goeie strategie is om baie stadig met hierdie pad te ry en plek-plek stil te hou om die laagtes behoorlik te bespied. Algemene waadvoëls sluit in Afrikaanse Snip, Groenpootruiter, Rooipootelsie en Bontelsie. Kemphane is dikwels in groot getalle teenwoordig en afhangende van die watervlakke behoort u ook Krombekstrandloper, Kleinstrandloper, Moerasruiter, Bosruiter, Drieband- en Geelborsstrandkiewiet te kan sien.'n Wye reeks reiers, insluitende Reuse - en Swartreier, is gewoonlik te sien. Glansibis is dikwels in verbyvlug te sien. Plekke waar droë grond uitsteek is gewoonlik uitstekend vir Rooiassie en Gewone Kwartelvinkie. Kyk uit vir Europese Vleisanger (in die somer) by biesies naby die water, en vir Grootriethaan en Goudsnip aan die kante van rietplate. U kans om hierdie spesiale voëls te sien is die beste indien u vroeg in die oggend begin. Indien u gelukkig is, sien u dalk selfs 'n Kleinriethaan. Nadat u hierdie gebied deeglik gefynkam het, gaan na die derde skuiling naby die mynhope waar die Kuifkopdobbertjie gewoonlik gesien kan word. Gaan dan weer op u roete terug en kyk uit vir enigiets wat u gemis het. |
| Club Benefits | About Birding | Contacts | Events | News | Birding Spots | HOME |
| Klub Voordele | Oor Voëlkyk | Komiteelede | Klubprogram | Nuus | Voëlkykplekke | TUIS |
| © BirdLife Northern Gauteng - a proud member of the BirdLife family. | ||||||