Logo for Pretoria Bird Club Wat maak voëlkyk gewild?
Klub Voordele Oor Voëlkyk Komiteelede Klubprogram Nuus Voëlkykplekke TUIS

Voëlkyk neem, naas 'n hele klomp ander buitelugaktiwiteite, in gewildheid toe. Oor die algemeen is dit 'n rustige en ontspannende stokperdjie wat mens se natuurlike nuuskierigheid en begeerte om te leer, asook die drang om uitdagings daar te stel, bevredig. Terwyl mense vir baie verskillende redes voëls dophou, is sommige van die trekpleisters daarvan die volgende:

  • Voëlkyk neem jou na wonderlike plekke! As mens eers ernstig begin voëls kyk kan dit vele reise begin insluit en is dit 'n uitstekende verskoning om nuwe dele van die wêreld te sien. Baie van die beste voëlkykplekke is ook plekke met mooi natuurskoon wat opwindend is om te besoek.

  • Voëlkyk is 'n uitdaging. Die grootste uitdaging is om die voëls wat mens sien te identifiseer, en om sekere voëls wat jy graag wil sien te vind en te identifiseer. Voëlkyk groei van 'n belangstelling tot 'n vaardigheid. Die vaardigheid om voëls te vind en te identifiseer behels kennis oor die habitat, gewoontes, veredrag en vorm van die voël. Hoe meer mens van voëls weet, hoe makliker is dit om grootte en vorm van 'n afstand af te beoordeel, of om 'n snelbewegende voël vinnig raak te sien en die sleutelkenmerke waar te neem wat dit moontlik maak om seker te wees watter soort sperwer (byvoorbeeld) dit is.

  • Voëlkyk is 'n sosiale bedrywigheid. Anders as wat sommige mense mag dink, is die meeste voëlkykers baie sosiaal en gesels hulle baie ure met ander voëlkykers oor hulle stokperdjie.

Hoekom na voëls kyk?

  1. Voëls is die mooiste en mees toeganklike diere op aarde. Voëls is letterlik oral, en as mens 'n natuurliefhebber is, kan jy nie anders as om voëls te waardeer nie. Daar is omtrent nêrens waar daar nie voëls is nie!

  2. Daar is 'n ongelooflike verskeidenheid voëls. Wêreldwyd is daar 9730 verskillende spesies. Voëls tree op baie verskillende maniere op, en mense kan hulle met baie van hierdie gedragspatrone vereenselwig. Baie voëls is sosiaal en kan hulle merkwaardig by omstandighede aanpas. Selfs van die meer algemene spesies (soos byvoorbeeld die Pylvlekkatlagter) het gewoontes wat voëlwetenskaplikes (ornitoloë) nou maar eers begin verstaan.

  3. Voëlkyk neem 'n mens na baie van die interessantste en opwindendste plekke op aarde. As jy iemand wil ontmoet wat die land werklik gesien het, en wat van elke versteekte skat weet - soek maar net 'n obsessiewe voëlkyker. Benewens die woude en berge, bosveld en vleie, word sommige van die mees gesogte voëls gevind oor die oop oseaan, in verafgeleë riviervalleie, naby beroemde watervalle of selfs by die Groot Gat van Kimberley!

Wat is voëlkyk presies?

Dit kan net dit wees - om na voëls te kyk. Meer algemeen gaan voëlkyk eintlik daaroor om die voëls rondom ons dop te hou en te identifiseer. Wanneer mens 'n voël waargeneem het, en gesien het hoe dit optree is die volgende vraag: wat is dit? Dit is waar voëlkyk (soos wat meeste mense dit geniet) begin. Die volgende stap is om 'n verkyker in die hande te kry sodat mens die voëls waarna jy kyk beter kan sien, asook 'n veldgids of handboek om met identifikasie te help. Voëlkyk het oor die laaste paar jaar geweldig in gewildheid toegeneem en 'n kykie na die rakke van jou plaaslike boekwinkel gee 'n idee van hoeveel belangstelling voëls deesdae in Suider-Afrika wek.

Die hou van lyste ("ticking")

As mens eers die plesier en die uitdaging om voëls te identifiseer begin smaak het, is die volgende stap om op een of ander manier rekord te hou van die voëls wat jy sien. Dit is waar die hou van 'n lys begin, en vir meeste voëlkykers is die belangrikste lys 'n lewenslys - 'n lys van al die voëls wat jy in jou lewe sien. Veel meer is egter moontlik en die lyste kan mens help om tred te hou met jou waarnemings, of om 'n wye aantal ervarings te organiseer en so seker te maak dat dit nie verlore gaan nie. Om lyste te hou kry besondere betekenis en waarde wanneer dit deel is van 'n georganiseerde "wetenskaplike" poging om inligting te versamel. Duisende voëlkykers, wat betrokke was by die Suider-Afrikaanse Voëlatlasprojek, het miljoene stukkies data ingesamel en 'n omvattende beeld van die verspreiding en bewegings van meeste van ons voëlspesies help opbou.

"Twitching"

Veral in Engels het 'n hele nuwe woordeskat in die voëlkykwêreld ontstaan. Wanneer 'n mens eers 'n lewenslys het en 'n obsessie ontwikkel om dit uit te bou, dan word jy 'n "twitcher" genoem. 'n "Twitcher" is iemand wat aktief nuwe voëls soek om op sy lewenslys te plaas en die woord is veronderstel om die onbeheerbare spasmas te beskryf wat die "twitcher" ervaar tydens die opwinding wat met die aanskoue van 'n nuwe voël gepaardgaan. Baie voëlkykers is in 'n mate "twitchers", maar elke voëlkyker besluit uiteindelik self hoe belangrik dit is om 'n nuwe voël af te merk. Sommige voëlkykers is geharde "twitchers" en stel in niks anders belang as om nuwe spesies af te merk nie, terwyl sommige van die land se beste voëlkundiges hulleself glad nie as "twitchers" beskou nie. "Twitching" het tot 'n heel nuwe woordeskat gelei om te beskryf wat gebeur as jy gaan net om voëls af te merk. Om 'n voël te "grip" beteken jy het die voël - jy kan dit op jou lewenslys afmerk. Omgekeerd, indien mens vir spesifieke voëls gaan soek, maar dit nie kry nie, word gesê hulle "you dipped out on that species". In Afrikaans het ons seker maar "uitgemis" op 'n sekere spesie!

Meeste voëlkykers geniet dit steeds om na voëls wat hulle reeds gesien het te kyk. Voëlkyk wat nie net daarop gemik is om nuwe spesies af te merk nie is gewoonlik rustiger, tensy dit ystervoëlkyk ("power-birding") word.

Voëlkyk, op watter vlak ookal, het aanleiding gegee tot die gebruik van 'n hele reeks tegnieke om voëls te vind. Een van hierdie tegnieke is die gebruik van bandopnames van voëlroepe. Voëlkykers moet in gedagte hou dat voëls wilde diere is en dat versteuring tot die minimum beperk behoort word. Dit is dus 'n goeie idee om vertroud te wees met 'n gedragskode vir voëlkykers.

Klub Voordele Oor Voëlkyk Komiteelede Klubprogram Nuus Voëlkykplekke TUIS