Logo for BirdLife Northern Gauteng Voëlkykplekke - Rustenburg Natuurreservaat
Klub Voordele Oor Voëlkyk Komiteelede Klubprogram Nuus Voëlkykplekke TUIS

deur Etienne Marais

Hierdie 4257 ha natuurreservaat aan die kant van Rustenburg bied aan besoekers die kans om in 'n ongeskonde deel van die Magaliesberg te stap, sowel as wonderlike natuurskoon. Mens kan een van die staproetes onderneem, by die baie rustige kampplek kampeer of sommer net piekniek hou en vanuit die motor voëls kyk en wild besigtig. Die reservaat bied 'n wye verskeidenheid habitat-tipes, soos mens van die laer Magaliesbergvalleie en beboste klowe beweeg na die hoërliggende valleikom met wisselende grasveldhabitat en 'n groot vlei. Rotsagtige hange en proteaveld sowel as uitgegroeide boomveld rondom die besoekersentrum waarborg 'n groot verskeidenheid voëls - hoewel almal beslis nie maklik gedurende 'n kort besoek gesien word nie.

Voëls

Die reservaat bied beskermde habitat vir 'n wye reeks grasveld-, boomveld- en sommige bergvoëls wat nie maklik elders in die streek aangeteken kan word nie. Spesiale voëls sluit in Langtoonkliplyster (winter), Rooivlerkpatrys, Kleinste Klopkloppie, Kaapse Ooruil, Donkernaguil, Swartwindswael, Gestreepte Koester, Gras- en Vlei-uil en Rooiborsvleikuiken. Roofvoëls is volop en Witkruis-, Breëkop- en Bruinarend (somer), Kaalwangvalk en Kransvalk broei in die reservaat. Kransaasvoël en Rooiborsjakkalsvoël kan ook gesien word. 'n Verskeidenheid bosveldvoëls kan in die laerliggende vallei en in die boomveld rondom die besoekersentrum gesien word.

Voëlkyk

Voëlkykgebiede sluit boomveld in - veral rondom die besoekersentrum en op die pad van die toegangshekke af. Die toeristeroetes bied die geleentheid vir interessante grasveld-voëlkyk uit die motor. Alternatiewelik kan mens die vlei-paadjie volg of die 5 km Peglerae-roete wat mens opneem na die hoër ruwe terrein aan die noordwestelike kant van die besoekersentrum.

1. Swartkatakoeroe, Witkeeljanfrederik, Suidelike Waterfiskaal, Geelblestinker, Bandkeelkleinjantjie, Groot-rooibandsuikerbekkie en Gestreepte Visvanger kom voor in die boomveld in die laer dele van die reservaat en om die kampeerplekke/ontvangskantoor. Skopsuil is 'n standvoël en Skerpbekheuningvoël is ook aangeteken. Kyk uit vir die Dassievoëls wat in die geboue van die besoekersentrum nesmaak.

2. Die toeristeroete gaan deur 'n aantal verskillende habitat-tipes. Van die besoekersentrum volg dit 'n anti-kloksgewys rigting. Eers loop dit langs die kant van rotsagtige hange waar Rooivlerkstreepkoppie, en in die aand, Donkernaguil gevind kan word. Na 'n rivierkruising kyk uit vir die Bruinarend wat naby die pad nesmaak. 'n Tweede rivierkruising bring mens by 'n klam gebied met varings en biesies. Hier sal u die roep van die Grasvoël hoor en 'n paar Kleinbyvreters maak daar naby nes. Kyk ook vir Gewone Bontrokkie, Kaapse Wewer (rietplate) en Rooikeelflap.

Die pad gaan dan op na die hoogste punt van die wildrit en daarna daal dit na die suidwestelike been van die sirkelroete. Kyk hier vir Gewone Bontrokkie, Donkerkoester, Oranjekeelkalkoentjie, Trekdrawwertjie en Vlaktelewerik. Witpenskorhaan is ook in die langer gras teenwoordig, maar is moeilik om te sien. Rooivlerkpatrys word ook naby rotsagtige gebiede gevind en word die beste deur hul roep opgespoor. Op die pad terug, na die aansluiting met die tweerigtingpad, gaan mens oor 'n grasvlakte waar die roep van die Kleinste Klopkloppie dikwels in die somer gehoor kan word.

3. Die Peglerae-roete is ongeveer 5 km lank en neem mens langs hoë ruwe terrein met klein valleie en strome. Kyk vir Luitinktinkie, Kaapse Kliplyster, Langtoonkliplyster (winter), Bokmakierie, Bergwagter en Klipstreepkoppie langs die kliprante op hierdie roete. Die dieper klowe waarlangs mens gaan naby die begin van die roete kan Gestreepte Koester en Dassievoël lewer, terwyl kleiner valleie 'n goeie plek is vir Huiltinktinkie en Grasvoël. Na die einde van die roete se kant toe bied die breër graslaagtes 'n habitat vir Rooivlerkpatrys. Hou u oë oop vir roofvoëls soos Kransvalk, Edelvalk, Rooiborsjakkalsvoël en Witkruisarend sowel as Swart- en Witpenswindswael.

4. Die uitgebreide vlei, wat in die middel van die groot vallei-kom lê, is toeganklik via die kort (2 km) vlei-paadjie en kan ook van die laer gedeelte van die toeristeroete bereik word. Kaapse Wewers en Rooivinke broei hier in groot getalle en die vlei self huisves Rooiborsvleikuiken, terwyl die kante van die vlei die tuiste is van Gras- en Vlei-uil.

Inligting oor die reservaat

Die reservaat is aan die suidelike kant van Rustenburg. Van Pretoria af, gaan Rustenburg binne met die R27 en draai links in Wolmaransstraat. Volg hierdie pad en die padtekens vir ongeveer 6 km na die hoofhek. Die toegangshek is oop van 8:00 tot 16:00 en die reservaat moet voor 18:00 (somer) en 17:30 (winter) verlaat word. Dit maak voëlkyk op die beste deel van die dag onmoontlik en dit is dus baie beter om 'n staproete te bespreek of om oornag te kampeer.

Besprekings en inligting: Tel 0142-31050 of faks 0142-950950.



Club Benefits About Birding Contacts Events News Birding Spots HOME
Klub Voordele Oor Voëlkyk Komiteelede Klubprogram Nuus Voëlkykplekke TUIS
   © BirdLife Northern Gauteng - a proud member of the BirdLife family.