Logo for BirdLife Northern Gauteng voëlkykplekke - Suikerbosrand Natuurreservaat
Klub Voordele Oor Voëlkyk Komiteelede Klubprogram Nuus Voëlkykplekke TUIS

deur Etienne Marais

Suikerbosrand is 'n groot natuurreservaat, geleë in skilderagtige heuwels naby Heidelberg. Dit bied 'n aantal staproetes wat gewild is oor naweke, sowel as 'n uitstekende wildrit van 60 km lank. Suikerbosrand bestaan grootliks uit grasveld met kranse, klowe en beboste valleie.

Voëls

Dit is die beste plek naby Johannesburg om 'n verskeidenheid endemiese hoëveldvoëls asook grasveld- en bergspesies te vind. Witpenskorhaan, Berg-, Rooivlerk- en Kalaharipatrys is standvoëls hier. Rooiborsjakkalsvoël, Sekretarisvoël en Witkruisarende kom voor. Berghange huisves Bergwagter, Dassievoël, Kaapse Kliplyster sowel as Langtoonkliplyster (winter). Grasvoël, Draaihals, Rooikeelflap en Kaapse Wewer kom in die klam valleie voor. Huiltinktinkie, Langbeklewerik en Oranjekeelkalkoentjies hou teen die heuwelhange. Droër gebiede aan die westekant is die tuiste van Geelkanarie, Bosveldtjeriktik, Rooi-oogtiptol en Kalahariwipstert.

Voëlkyk

Sirkelroete (wildrit)

Hierdie roete deurkruis verskeie habitatte en 'n mens moet probeer om teen oopmaaktyd teen 07:00 by die hek te wees (R9 is per kar betaalbaar). Die eerste stuk van die pad loop teen 'n vogtige vallei op. Stop waar u oor die vallei kan uitkyk en luister vir Grasvoël en Draaihals. Kuifkopvisvanger en Feevlieëvanger was hier teenwoordig. Hoër op teen die hange is die habitat vir Huiltinktinkie, Bokmakierie en waar daar ookal kaal grond of rotse is, lyk dit of Bergwagter, Gewone Spekvreter en Gewone Bontrokkie volop is. Kaapse Flap toon net genoeg broeidrag (in Augustus) om hulle maklik te identifiseer.

Voëlkyk langs die sirkelroete word vergemaklik deur die feit dat die pad 'n uitgebreide reeks brandpaaie volg. Op die hoë kruine, waar die pad verby kliprante gaan, is Bergwagters algemeen en Langtoonkliplysters baie opvallend. Rooivlerkstreepkoppie, Langbek-, Vlakte- en Rooikoplewerik en Oranjekeelkalkoentjie word ook op hierdie roete gesien. Kyk vir patryse en fisante wat uit die lang gras kom om kos te soek. Op hoër grond is die Bergpatrys volop. Laer af word Rooivlerkpatrys dominant, alhoewel ons altwee bymekaar gesien het omtrent 10 km op die roete. Soos die pad daal, kyk vir koesters en Swartpiek. Na 20 km daal die pad heeltemal en gaan verby 'n groot dam. Kyk in die bossie-grasveld vir Kalaharipatrys wat dikwels naby die pad gesien word.

Die pad gaan dan om die westelike platorand van die Suikerbosrand waar daar akasia-doringveld voorkom. Die Holhoek piekniekterrein is 'n goeie plek vir voëlkyk. Kyk hier vir Bosveldtjeriktik, Acaciagrysmees, Rooi-oogtiptol, Kaapse Glasogie en Swartbandlangstertjie. Dassievoël kan in en om die piekniekterrein gesien word, sowel as by die hoofbesoekersentrum.


Club Benefits About Birding Contacts Events News Birding Spots HOME
Klub Voordele Oor Voëlkyk Komiteelede Klubprogram Nuus Voëlkykplekke TUIS
   © BirdLife Northern Gauteng - a proud member of the BirdLife family.