Logo for Pretoria Bird Club Voëlkykplekke - Dinokeng
Klub Voordele Oor Voëlkyk Komiteelede Klubprogram Nuus Voëlkykplekke TUIS Erectile Dysfunction

Roodeplaatdam | Seringveld Bewarea | Amakulu Natuurreservaat | Ditholo Natuurreservaat

Dinokeng deur Pete Irons

Die gebied oos van die N1-snelweg en noord van die R513 (die ou Cullinan-pad) bied uitstekende geleenthede vir 'n dag of langer se voëlkyk. Baie privaat lodges is in die gebied opgerig. Gauteng Natuurbewaring en die SANW besit ook eiendom in die area, waarvan sommige vir die publiek oop is en uitstekende voëlkyk bied. Sekere dele word alreeds beskerm, en daar is inisiatiewe aan die gang om die noordelike gedeeltes van hierdie area by 'n biosfeerreservaat in te sluit. Die gebied huisves voëls van 'n wye habitatverskeidenheid, insluitende Acacia en breëblaarboomveld, asook rivieroewer, damme en vleilande. Roodeplaatdam, die Seringveld Bewaringsgebied (Bewarea), Amakulu Natuurreservaat en Ditholo Natuurreservaat word hier bespreek. Sowat 80 tot 100 voëls kan tydens 'n oggendbesoek aan een van die bogenoemde plekke verwag word, terwyl 'n naweek in die somer 180 of meer kan oplewer.

Roodeplaatdam.

Roodeplaatdam bied 'n kombinasie van oop water, rietplate en digte Acacia en gemengde doringveld, met oper gedeeltes tussenin. Rivieroewerbos word langs die waterlope gevind wat in die dam in- en uitloop. Roodeplaatdam word omring deur 'n aantal kampeerterreine, selfsorg chalets en oorde wat volle losies bied. Kampeerfasiliteite is beskikbaar in 'n deel van die natuurreservaat, op die westelike oewer. Toegang tot die reservaat kos R10 per persoon. Daar is 'n groepkamp met 8 basiese hutte in die oostelike gedeelte.

In die vroeë oggend bied die westelike gedeelte uitstekende bosveldvoëlkyk, maar dit kan maar raserig raak oor naweke. Baie watervoëls, soos Kuifkopdobbertjie, Witvlerksterretjie, Grootkoningriethaan, Swartriethaan, Dikbekwewer en verskeie eendspesies kom voor. Die ruigtes is goed vir sangers, langstertjies, wewers, vinke, janfrederikke en wipsterte, en Reuse Visvanger hou by die stroom water wat van die Zeekoegatwatersuiweringswerke na die dam afloop. Die poele onderkant die damwal moet versigtig vir Watertrapper deurgewerk word. Die oostelike gedeelte van die reservaat is stil en dus meer bevorderlik vir naweekvoëlkyk. Visarende broei in hierdie gedeelte van die dam. Die plantegroei langs die dam is digter, en daar is ook meer oop grasveldareas. Visvalk kan enige plek opduik. Rietplate langs die dam huisves baie Kaapse Riet-, Kaapse Vlei- en Grootrietsangers, asook Woudapie. Die Roodeplaat proefplaas bied uitstekende voëlkyk in 'n verskeidenheid habitatte, maar is ongelukkig nie vir die publiek oop nie. Die Pretoria Voëlklub bied soms uitstappies daarheen aan.

Die westelike gedeelte van die Roodeplaatdam Natuurreservaat word bereik deur die Zambezilaanafrit van die N1 Noord te neem, oos te draai aan die einde van die afrit en links by die eerste verkeerslig, met die wegwyser "KwaMhlanga". Die ingang tot die reservaat is 10 km met hierdie pad langs op regterkant. Die damwal word bereik deur een kilometer verby die reservaatingang op die KwaMhlangapad regs te draai by die afdraai met die wegwyser "Hidrologiese Navorsing" en die Departement van Waterwese en Bosbou. Die ingang na die oostelike gedeelte van die reservaat word bereik deur reguit aan te hou na Cullinan toe, verby die eerste groot kruising van die N1 af, dan links te draai by die "Kameelfontein/Kameeldrift" padteken 5 km verder, en weer links 3.6 km verder.

Seringveld Bewaringsgebied

Die Seringveld Bewarea bestaan meesal uit gemengde bosveld met suurveldtipes op sandgrond. Breëblaarboomspesies is oorheersend, met 'n paar pragtige stande boekenhoute en Terminalias. Die baie rotsagtige rante en koppies in die omgewing word met yler plantegroei bedek, oorheers deur Burkea africana. Die Seringveld Bewarea is welbekend vir sy breëblaarboomveld spesialiteite. Dit is die enigste plek in Gauteng waar die Rooitinktinkie met 'n mate van sekerheid te vinde is. Ander spesiale voëls sluit Donkerwangbossanger, Muiskleurvlieëvanger, Bosveld-, Vaal- en Gestreepte Koester, Akkedisvalk en Koekoekvalk in. Witrug- en Knobbeleende hou in die klein pannetjies in die omgewing.

Die volgende roete sal voëlkykers in staat stel om die meeste te put uit die voëls van die area (nommers verwys na die nommers op die meegaande kaart):

  1. Goeie plek vir Luitinktinkie, Gestreepte Koester en Witkeeljanfrederik.
  2. Die rotsrif is 'n goeie plek om vir beide Kaapse en Korttoonkliplyster uit te kyk.
  3. Goeie breëblaarboomveld bied interessante voëlkyk. Hou u oë oop vir Rooitinktinkie, wat maklik deur sy roep opgespoor word, twee spesies bossanger, Gestreepte Visvanger, Muiskleur- en Swartvlieëvanger, Bosveldkoester, Swartkatakoeroe en vele Afrikaanse Koekoeke in die somer.
  4. Laeveldklappertjie, Vaalbruin-, Rooinek-, Sabota- en selfs Spotlewerik kom hier voor. Swempie en Bosveldkwarteltjie kan langs die pad te sien wees. Kyk ook uit vir troupante, Pêrelborsswael en verskeie byvreters.
  5. Die grasveld langs die De Wagendriftpad bied die beste kans om Langstertflap en ander grasveldspesies te sien. Sekretarisvoëls word in hierdie area waargeneem.
  6. Adams Country Arms is 'n uitstekende keuse vir middagete. Hou die telefoonpale dop vir Akkedisvalk, en kyk gereeld na die selfoontoring vir die plaaslike Bruinslangarend.
  7. As mens agterom die Kloofwinkel loop is Dassievoël basies verseker. Papegaaiduif, Meitjie, Gestreepte Koester, Bandkeelkleinjantjie en Luitinktinkie kom ook voor.
  8. en 9. Lieflike bosveldpanne, met 'n goeie kans vir Witrug- en Knobbeleende, Grootlangtoon, Grootriethaan en Rooiborsvleikuiken, indien die watertoestande reg is. Daar is 'n kolonie Familieswaels by Boekenhoutskloof. Skakel Pete Irons (808 1764) om toegang te reël.

Die Seringveld Bewarea het min verblyfmoontlikhede. Sandra Maria en Eden Camp bied basiese groepsfasiliteite. Adams Country Arms, langs die KwaMhlangapad, bied uitstekende ontbyte en middagetes. Skakel (012) 735 1994 of 735 1832 vir besprekings.

Mens bereik die suidoostelike hoek van die Seringveld Bewarea deur met die KwaMhlangapad van Roodeplaat af aan te ry tot by die eerste afdraai na regs na die damwal, met die wegwyser "Skoolpad". Draai regs op die teerpad, by die T-aansluiting by die verste punt van hierdie pad. Van hieraf bestaan daar 'n verskeidenheid moontlikhede om die gebied, wat links van hierdie pad lê, te verken. Pete Irons kan vir meer inligting gekontak word. Wees bereid om op swak onderhoude grondpaaie te ry.

Onthou asseblief dat al die grond in die Bewarea in privaat hande is, en dat die goeie gesindheid van die eienaars 'n belangrike element van aangename voëlkyk is.

Amakulu Natuurreservaat

Die Amakulu is 'n goeie plek om baie bosveldvoëls te sien. Die dominante habitat dwarsoor Amakulu is droër gemengde bosveld, met enkele oop grasveldgebiede. Die noordelike en westelike dele is oorheersend Acaciabosveld wat plek-plek baie dig word, soos langs waterlope. 'n Klein gebied met Kalahari-tipe plantegroei is in die verre noordwestelike hoek van Ditholo te vind.

Verskeie privaatreservate, lodges en konferensiesentrums is in die Amakulu opgerig. Voorbeeld is Zebra Lodge, Naka Game Lodge en Intundla Lodge. Daar is ook 'n 12 km staproete, die Leeuwkloof voetslaanpad. Detail is beskikbaar deur (012) 735 1694 or 082 450 1877 te skakel.

Buitengewone voëls wat in hierdie area teëgekom kan word sluit in Bruin- en Swartborsslangarend, Afrikaanse Jagarend, Grootrooi- en Kleinrooivalk, Trekdrawwertjie, Witpenskorhaan, Donkerlewerik en Vaal-, Donker- en Bosveldkoester. Waterlope moet versigtig vir Kuifkopvisvanger en Dwergrietreier deursoek word, terwyl 'n goeie reeks saadvreters, vlieëvangers en sangers (insluitende Tuinsanger en Spotvoël in die midsomer) in gebiede rondom drinkbakke en met goeie bosbedekking verwag kan word. Dit is 'n uitstekende gebied vir koekoeke, en Gevlekte Koekoek en Gestreepte Nuwejaarsvoël word algemeen gesien. Die Amakulu-area is noord van die Seringveld Bewaringsgebied geleë. Die gebied kan deurkruis word op een van drie gruispaaie wat rofweg in 'n noordwestelike rigting loop van die KwaMhlangapad af. Die eerste, met 'n wegwyser na Hammanskraal, draai oorkant die Kloofwinkel af, die tweede net anderkant die besigheidsentrum van De Wagendrift, en die derde net voor die Moloto-nedersetting. As mens die De Wagendriftpad volg tot aan die einde daarvan, regs draai by die T-aansluiting en weer regs na Uitvlugt, dan bevind jy jou op nog 'n stil grondpad wat by tye uitstekende voëlkyk kan oplewer, insluitende Gebande Sanger, Grootmossie, Koningblou- en Swartwangsysie, Dwergvisvanger en Witkatlagter.

Ditholo Natuurreservaat (Geen privaat besoeke word toegelaat nie)
Let asb daarop dat die reservaat aan die Weermag behoort en dat toestemming vooraf deur die Pretoria Voëlklub gereël moet word.

Ditholo huisves tipies 'n aantal van die voëls van die droër wêreld (dit word gelys onder die spesialiteite), asook die gewone reeks laksmanne, sysies, koekoeke, visvangers en janfrederikke. Afrikaanse en Europese Wielewale kom in die somer voor. 'n Geel weergawe van die Rooiborslaksman was 'n tyd lank 'n standvoël, maar is nie onlangs gesien nie. Grootglansspreeu, Geelbekneushoringvoël en Koringvoël word gewoonlik in die noordoostelike hoek van die reservaat aangetref. Die rivier is uitstekend vir Blouvisvanger en Watertrapper is ook al daar gevind, al kan dit nie gewaarborg word nie. Swartkoekoeke word dikwels langs die bosbelynde paaie waargeneem, wat Ditholo is 'n uitstekende plek maak om hulle inderdaad te sien.

Ditholo word bereik deur links te draai wanneer mens die teerpad met die De Wagendriftpad langs bereik, en weer regs draai by die De Witskraalteken. Navraag kan by die hekwagte gedoen word oor rigtingsaanduidings in die reservaat. Alternatiewelik kan mens die reservaat via die Hammanskraal/Boekenhoutskloof afrit vanaf die N1 bereik. Draai regs en onmiddellik links na Rust de Winter toe, en dan links in die De Witskraalpad. Verblyf is vir voëlkykgroepe beskikbaar.


Club Benefits About Birding Contacts Events News Birding Spots HOME Erectile Dysfunction
Klub Voordele Oor Voëlkyk Komiteelede Klubprogram Nuus Voëlkykplekke TUIS
   © Pretoria Bird Club - an Affiliate of BirdLife South Africa.